“In alles word ons verdruk,
maar ons is nie teneergedruk nie;
ons is oor raad verleë,
maar nie radeloos nie.” 2 Kor. 4:8.

 

Partykeer weet ons regtig nie meer hóé vorentoe nie.
Soos Paulus, sê ons dat ons eenvoudig oor raad verleë is.
Nie eers Bybelskrywers soos Paulus,
het elke slag duidelikheid oor God se wil gehad nie.
Lees maar Paulus se briewe.
Lees oor sy swaarkry, vrae en worsteling.
Hy het dikwels hard gesoek na God se wil.

 

‘n Goeie voorbeeld is hoe hy en sy medewerkers
saam soek na God se wil.
Hulle het verskillende menings daaroor!
Lees dit in Handelinge 21.
Die profeet Agabus kom deel hom op simboliese wyse mee
dat hy in Jerusalem gevang gaan word.
Lukas hulle is oortuig dat die Heilige Gees sê
Paulus moenie soontoe gaan nie.
Paulus meen weer die Gees lei hom om te gaan,
en om te ly en te sterf vir Christus, as dit moet.

 

Selfs die grootste kerkleiers, soos Paulus en Lukas en Timoteus,
verskil oor God se wil.
En dit is opgeteken as deel van die evangelie.
Wie is ons om te dink dat ons elke slag presies sal weet wat God se wil is?
Soms weet ons duidelik, en soms nie.
Soms ken ons net ten dele.
Soms kyk ons asof deur ‘n dowwe spieël in ‘n raaisel.
Ons het nie altyd al die antwoorde nie.
Dit is nie altyd swart en wit nie.
Nogtans weet ons in sulke tye, soos Paulus,
dat die Here nie ons hand los nie.
Ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie!
Die Here is steeds naby om te bly lei.
Sy liefde het geen einde nie.
Ook al weet en verstaan ons nie altyd nie,
en selfs al verskil ons oor sy wil.

 

Ernest