“Wie aardse besitting het en sy broer sien gebrek ly,
maar geen gevoel vir hom het nie –
hoe kan die liefde van God in hom wees?”

 

Om mekaar se laste te dra,
moet ons mekaar se nood ernstig opneem.
Ons kan nie net daar gaan help waar ons gerieflik is,
en dit ons niks kos in terme van geld, energie en tyd nie.
Dit gaan tog oor die koste van naasteliefde.

 

Wie is ons broers en susters waarvan die teks praat?
Ons wil hierdie sirkel gewoonlik so naby as moontlik aan ons trek.
Wie is hulle wat gebrek ly, in ons teks?
Wat beteken dit om gebrek te ly?
En die “geen gevoel” waarvan die teks praat?
Ons sal ons harte grondig moet ondersoek,
onder leiding van die Heilige Gees.

 

Dink oor die beginsel:
Elke ander kind van God is tog my familie.
As ek by ‘n plakkerskamp verbyry,
en daar is kinders van die Here daar, en daar is verseker,
dan is hulle inderdaad my broers en susters!
En as hulle onder die broodlyn leef,
en nie oor basiese lewensmiddele beskik nie, ly hulle gebrek.

 

My broers en susters leef nie net hier gemaklik-naby my nie.
Hoekom maak ons ons oë en ore toe?
Is ons bang dat ons oorvloed sal krimp?
Is die liefde van God dan nog in ons harte?
Dit is wat die laaste deel van die teks vra:
“….hoe kan die liefde van God in hom wees?”

 

Ernest