In die krag van die Here !
Gasvryheid, mededeelsaamheid,
menseverhoudinge, optrede teenoor nie-Christene…
Alles dinge waaroor die laaste paar dae gepraat is.
Hoe is dit moontlik op die Here se wil daarin uit te leef?
Ons kan dit slegs doen in die krag van die Here!
Kyk net hierdie treffende vers in 2 Petrus 1:3:
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat
ons nodig het om te lewe en Hom te dien.”
Om God te dien beteken om óók mekaar
en die wêreld rondom ons te dien.
Dit kan eenvoudig nie anders nie!
Ons skud partykeer die kop as ons sien
wat die Here van ons in die praktyk van die lewe vra.
Ons skiet so ver tekort en wonder hoe ons dit kan regkry.
Ons moet besef ons kan dit nie uit onsself doen nie.
Ons kan nie uit onsself reg lewe nie.
Wat nog van die Here volhardend met toewyding dien.
Ons naasteliefde is so flou.
Ons is dikwels swak getuies vir die Here.
Nou die goeie nuus!
God self voorsien aan ons die krag.
Die Heilige Gees wat in ons woon,
gee aan ons die volle maat van krag
wat ons nodig het om God se wil uit te leef!
Ons moet dag na dag onder beheer van die Gees lewe.
Ons moet die krag wat Hy aan ons gee vir onsself toe-eien.
Deur die krag van die Heilige Gees, is dit moontlik om
die Here met blydskap en dankbaarheid te dien!
Gaan leef in sy krag!
Ernest