Filippense 1:29 is ‘n treffende teks:
“God het julle die voorreg gegee om Christus te dien,
nie alleen deur in Hom te glo nie,
maar ook deur vir Hom te ly.”
In hierdie wêreld is ligdraers van die Here nie oral welkom nie.
Mense wat nie in die lig lewe nie haat die lig van die Here.
Johannes 3:20 sê:
“Elkeen wat kwaad doen,
haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie,
sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.”
Mense wat in sonde volhard en nie wil verander nie,
en wat God nie in hulle lewe wil toelaat nie,
verset hulle met alles wat hulle het teen ligdraers van die Here.
Tot die wederkoms sal Christene ly omdat hulle Jesus Christus bely.
Maar ons moet Christus se belofte onthou in Matteus 28:20:
“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Christen-lyding is ‘n gawe van God.
Ja, jy het reg gelees. Lees weer die Filippense 1:29 teks hierbo.
Dit is ‘n leerproses in geloof en afhanklikheid.
In volharding, moed en blydskap.
In deernis, en saamvoel, en begrip.
En dit is nie al nie, skryf Paulus in Romeine 8:17:
“En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename.
Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus.
Aangesien ons deel het aan sy lyding,
sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”
Anderkant bekering wag lyding vir die Here.
In lyding groei ons, saam met God.
En uiteindelik wag die heerlikheid,
wat God se kinders as erfenis kry!
Ernest