Op die vraag wat geloof is, antwoord ‘n jongmens:
“Geloof is nie bla-bla-bla nie.”
“Wat bedoel jy?”, vra ‘n ander aan hom.
Antwoord hy:
“As mense Christelike dinge sê en onchristelike dinge doen,
is dit nie geloof nie.”
Die Woord leer ons:
Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.
As jy twee sekondes voordat jy jou laaste asem uitblaas,
die Naam van die Here sou aanroep,
sou God Hom oor jou ontferm het.
Ons sien dit met die man aan die kruis!
Die Here se genade sou jou redding wees.
Maar nou is ons gered met ‘n lewe vóór ons!
Nou lê daar vir ons ‘n lewe voor ons,
waarin ons die Here se wil wil gaan uitleef!
Nou moet ons geloof deur die liefde tot dade oorgaan!
Galasiërs 5:6 sê:
“…Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”
Ons moet groei in kennis van die Woord.
Dit sal ons help om te onderskei wat die wil van die Here is sodat ons dit kan dóén!
Ons moet met die gesindheid van die Here Jesus gaan optree.
Ons moet volhard om nie weer wêreldgelykvormig te raak nie.
Ons moet mense doelbewus liefhê met die liefde van die Here.
Ons leer God beter ken deur gehoorsaamheid.
Deur sy wil te doen.
Wanneer ons gehoorsaam is,
ontdek ons dat God Hom toenemend aan ons openbaar.
Geloof is nie bla-bla-bla nie.
Geloof gaan deur liefde oor tot dade!
Ernest