“Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
Jakobus 4:8.

Hoe maklik verbreek ons nie beloftes nie.
“Ek sal vir jou bid”, en jy vergeet.
“Ek sal met jou kontak hou”, en jy vergeet.

God is so anders.
“Jesus Christus, die Seun van God,
is nie “ja” en “nee” tegelyk nie.
Hy is die “ja” van God,
die “ja” op al die beloftes van God.”
2 Kor. 1:19-20.
Wanneer die Woord sê
“nader tot God en Hy sal tot julle nader”,
kan ons verseker weet dit sal so wees.
Jesus self is die waarborg,
die “ja” op God se beloftes!
Net een tree terug na God toe,
en Hy maak alreeds sy Vaderarms oop na jou toe.
Hy kom jou tegemoet, en ontmoet jou waar jy nóú is.
Jy hoef nie eers “iewers” te wees voor Hy reageer nie.
Net daar waar jy nóú geestelik en emosioneel is.
Net daar ontmoet Hy jou.

Keer op keer sal ons met God beleef
wat Natanael met Jesus beleef het.
“Natanael vra Hom toe:
“Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het”, antwoord Jesus hom,
toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien”.
Johannes 1:48.

Die Here ken jou van ewigheid af, vóór jy Hom ken.
Glo dat God jou sien, en op jou wag.
Hoe huiwerig ookal, gaan net terug na Hom toe.
Hy strek sy arms uit na jou toe.

Ernest