Oor egskeiding word dikwels harde woorde gepraat.
Dikwels ook baie veroordelende woorde.
Die Bybel is inderdaad baie ernstig oor die huwelik.
In Maleagi 2:16 word egskeiding selfs gesien as
niks anders as geweld nie.

Trou is mensvat.
Daarom is die huwelik vir God ‘n heilige instelling.
God weet dat egskeiding baie seermaak.
Om te skei is eintlik ‘n baie groter besluit as om te trou.

Maar moet twee sielsongelukkige getroudes mekaar bly vernietig?
En dikwels ook ten koste van kinders,
wat ook in die proses vernietig word?
Moet ‘n verrinneweerde vrou bly teruggaan na haar man,
vir nóg emosionele en fisiese mishandeling?
Dan verstaan ons iets verkeerd.

Jesus Christus kán en wíl siek huwelike gesondmaak.
In Christus kán huweliksmaats mekaar weer vind,
nadat hulle deur kortsigtigheid, onvolwassenheid,
en sonde mekaar verloor het.
Vir God is niks onmoontlik nie.
Probleem is dat mense nie aan God gehoorsaam wil lewe nie,
ook nie in hul huwelike nie.
En as een party bly wegleef van God en huweliksmaat af,
word Christus as die magtige Herskepper van huwelike,
ook uitgehou uit die huwelik.

Maar Jesus Herskep en genees óók mense wat
gebroke uit huwelike kom.
Hoeveel Geesvervulde gelowiges moes nie al uit
die moeras van ‘n mislukte huwelik kom,
om deur die genade van die Here
wéér as beelddraers van God te lewe nie?
Die liefdesgebod beteken nie in die praktyk dat ‘n gelowige
homself of haarself op die altaar van vrees en emosionele
en liggaamlike geweld moet offer nie.
Die eerste doel van die huwelik is om tot eer van God te wees!

Wanneer jy uit ‘n mislukte huwelik kom,
moet jy weer gaan kyk waartoe Christus
jou geroep en gered het.
Die radikale besluit om uit te stap,
na hóévele worstelinge voor die Here,
is níé onvergeeflike sonde nie.
Ook in die nuwe begin sal die Here jou Herder wees.

Ernest