Die probleem met bitterheid is dat die mense wat bitter is,
nie dink dat dit bitterheid is nie,
maar dat hul optrede geregverdig is,
om een of ander rede.
Daarom dat die Woord ook in Hebreërs 12:15 sê:
“Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit,
moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.”
Bitterheid is soos ‘n rekenaarvirus.
Dit is die virus van die gees van jou menswees.
Dit is die wortel van ‘n indringerboom in jou siel.
Bitterheid vertroebel menseverhoudings.
Dit maak jou godsdiens en getuienis huigelagtig.
Dit vernietig jou begeerte om die Here te dien.
Dit is ‘n geheime emosie, bitterheid,
waarin net jy die bitterheid van jou eie gemoed ken.
Daarom sê Spreuke 4:23:
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou lewe.”
‘n Rekenaarvirus verdwyn nie vanself nie.
Daar moet drasties ingegryp word.
Dit is ook so met bitterheid.
Identifiseer dit in jou lewe.
Wees moedig daarin om dit te identifiseer.
Dit is nie ten koste van jouself nie,
maar ter wille van jouself,
en bo alles ter wille van die Here!
Bely dit voor die Here en begin lewe!
Hy gaan jou daarvan reinig en genees!
Ernest