“Nie een van die leiers van hierdie wêreld
het ‘n idee waaroor God se planne gaan nie.
As hulle ‘n idee gehad het,
sou hulle nie die Here wat soveel goddelikheid uitgestraal het,
aan ‘n kruis vasgeslaan het om daar te sterf nie.
Daar is mos geskryf:
“Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie.
In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie.
Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het
vir die mense wat Hom liefhet.”
Ons weet nie hierdie dinge sommer vanself nie.
God het dit vir ons met behulp van sy Gees kom verduidelik.
Die Heilige Gees weet alles,
tot alles wat in God se diepste gedagtes aangaan.”
1 Korintiërs 2:8-10 – Die Boodskap.
Ons weet inderdaad nie alles nie.
Al weet ons nog die meeste tot nou toe in die geskiedenis.
Selfs die slimste in die wêreld weet nie alles nie.
Soos die slim student wat by die wyse leermeester
antwoorde op al sy vrae wou kry.
Die leermeester het toe vir hulle tee gemaak,
en aanhou skink terwyl die koppie oorloop.
Die student het uitgeroep:
“Kan leermeester nie sien dit is vol nie?!”
“En so is dit presies met jou”, sê die leermeester.
“Jou verstand is so vol van alles wat jy ingooi,
dat daar nie meer plek vir wysheid is nie.
Word leeg sodat jy vol kan word met God.
Wyse mense weet dat hulle nie sonder God kan nie,
al weet hulle hoe baie.
God gee aan jou vars perspektief op die lewe,
deur die Heilige Gees.
Die wysheid wat van God kom.
Ernest