“Apollos en Paulus is maar net medewerkers van God
wat julle gehelp het om Jesus te leer ken.
Die Here het vir elkeen sy spesiale werk gegee.
Dit is maar al wat hulle doen.
Ek het die saad van die evangelie in julle harte geplant
en Apollos het dit nat gehou,
maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei.
Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie?
Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei.
Die een wat die saad plant, en die een wat dit nat hou,
werk saam soos in een span.
Daar is nie ‘n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie.
Buitendien is God – en nie ons nie – die Een wat sal sorg dat elkeen
van hulle die dank sal kry wat hulle verdien.
Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help.”
1 Korintiërs 3:5-9.

Elkeen van ons speel ‘n rol en nie een is belangriker as die ander een nie.
Paulus sê dit so:
“Ek het die saad geplant, Apollos het dit nat gemaak,
maar God het dit laat groei.”
Die belangrike is: God gebruik mense!

‘n Professor loop met sy kleindogter op sy skouers op kampus.
‘n Kollega sê vir die klein meisie:
“Jy het darem baie gegroei vandat ek jou laas gesien het!”
Die dogtertjie het geantwoord:
“Nie regtig nie, nie alles hiervan is ek nie.”

Nie een van ons kan roem dat ons alleen verantwoordelik is
vir die verandering in iemand se lewe nie.
Ons is net werkers van God.
Die een plant, die ander gooi nat, en God laat groei.
Uiteindelik is dit óók God self wat deur ons plant en nat maak!
Hy doen álles.

Dank die Here vir die voorreg dat jy deur Hom gebruik kan word,
en ook vir elke ander mens wat Hy al gebruik het,
om jóú te vorm en te laat groei in Hom.

Ernest