“Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar
God op ‘n baie spesiale manier teenwoordig is,
soos in ‘n tempel.
God se Gees bly mos in julle soos iemand in ‘n huis bly.
As iemand God se tempel skade aandoen,
sal hy met God self te doen kry.
En dit gaan nie lekker wees nie,
want God se tempel behoort aan Hom.
Dit is Syne en net Syne.
Julle is daardie tempel van God.”
1 Korintiërs 3:16-17.
In die Ou Testament was die tempel die simbool
van God se teenwoordigheid.
Nou, in ons tyd, sê Paulus, is ons sy tempels.
Die kerkgebou is net ‘n gebou.
Ons is die tempels van God.
Die Christendom is die godsdiens wat nie in ‘n tempel gebasseer is nie.
God het die tempel gedesentraliseer na gelowiges toe.
God bly nou deur die Gees in ons!
Dit is oorweldigend!
Want nou kan jy verstaan hoekom Paulus
so pleit by jou om met sorg na jouself om te sien,
geestelik en liggaamlik.
God woon in jou!
Dit het Garth House laat bid:
“Here, ek is U tempel.
Daarom onthou ek dat U kerk gebore is in wind en vuur.
Nie om ons hemelwaarts te wys soos ‘n vertonerige toring nie,
maar om ons te lei op die stofpaaie van hierdie wêreld,
sodat ons vrede kan bring te midde van onrus,
ja, hemel op aarde. Amen.”
Ernest