Die lewe en ons bestaan draai grootliks om liefde.
Omdat God liefde is, is die belangrikste vir Hom,
dat ons Hom moet liefhê, en mekaar moet liefhê.
Om onselfsugtig lief te hê is nie maklik nie.
Dit druis in teen ons selfgesentreerde aard.
Hierdie liefde word veral ook beklemtoon
ten opsigte van ons medegelowiges.
Galasiers 6:10 sê:
“Solank ons die geleentheid het,
moet ons dus aan almal goed doen,
veral aan ons medegelowiges.”
Waarom word medegelowiges beklemtoon?
Want God wil hê sy volgelinge, sy kinders,
moet meer as enige iets anders vir hulle liefde bekend wees!
Jesus het gesê ons liefde vir mekaar,
is ons grootste getuienis voor die wereld:
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is.”
God wil hê ons moet in noue verbintenis met medegelowiges lewe,
sodat ons liefdesvaardighede kan aanleer.
Ons kan nie in isolasie leer liefhê nie.
Ons leer liefhê deur naby gewone mense te leef,
irriterende, onvolmaakte, frustrerende mense. Medegelowiges!

Sonder liefde is die lewe waardeloos.
“Al deel ek al wat ek het aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” 1 Korintiërs 13:3.
Die hele Tien Gebooie gaan oor verhoudings,
met God en met ander mense.
Daarom som Jesus die wet op in terme van liefde.
Liefde en verhoudings is bo alles wat vir God saakmaak.
Wanneer jou program te vol raak, moenie, soos gewoonlik,
dat sake en dinge jou verhoudings uitskuif nie.
Dan verdring óns sogenaamde “dringende dinge”,
dit wat vir God die belangrikste is!
Besig-heid is die grootste vyand van verhoudings.
Ons is so besig om ‘n bestaan te maak, besig om te werk,
besig om doelwitte te bereik, asof die lewe daarom draai.
Dit alles is uiteindelik een groot nul,
as jy liefde en verhoudings verwaarloos.

Gaan leef die meeste van jou energie,
in dit wat vir God die belangrikste is!

Ernest