Jy word nie net geroep om te glo nie, maar ook om te behoort!
Efesiërs 2:19 sê dit treffend:
“Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie,
maar medeburgers van die gelowiges
en lede van die huisgesin van God.”

Ons word vir ‘n gemeenskap geskep.
Ons word vir samesyn saamgevoeg.
Ons word vir ‘n familie gevorm.
Niemand kan God se doel met ons alleen verwesenlik nie.
Die Bybel ken nie afgesonderde heiliges nie.
Die Bybel sê ons is saam, saamgevoeg,
saam gebou, saam lede, saam erfgename, familie.

Jou verhouding met God is persoonlik.
Maar God wil nie hê dit moet privaat wees nie.
Daarom sê Romeine 12:5:
“Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam,
en almal afsonderlik lede van mekaar.”
Ons is nie maar net nommers of klublede nie.
Vir die Woord beteken lidmaatskap van die Here se kerk
dat jy ‘n belangrike orgaan of ledemaat van die liggaam is!
Almal ewe belangrik!

Die kerk is ‘n liggaam, nie ‘n gebou nie.
‘n Lewende organisme, nie ‘n organisasie nie.
Organe of ledemate kan net hul funksie vervul
as hulle deel van die liggaam is.
Dieselfde geld elke gelowige wat per implikasie
deel van die liggaam van Christus vorm!
Jy ontdek jou rol in die lewe in jou verhouding met God,
en met ander mense!
Jou verhouding met die Here is nie ‘n private saak nie!

Wanneer ons die samekomste van die gemeente verwaarloos,
en dit nie meer bywoon nie,
is dit ongehoorsaamheid aan die wil van die Here!
Hebreërs 10:25 sê duidelik:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly
soos party se gewoonte is nie,
maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan….”
Dit help nie om te redeneer “ek het nie die kerk nodig om hemel toe te gaan nie.”
Dan verstaan jy so min van die roeping van God vir jou in hierdie wêreld.
As dit alleen God se doel was sou elkeen na “bekering” eenvoudig “hemel toe gaan”.

Kom lééf jou God-gegewe roeping in die gemeente van die Here,
en gaan lééf dit ook as gestuurde van die Here!

Ernest