‘n Gelowige kan nie maar net lidmaatskap van die kerk ignoreer nie.
Jesus het in Matt. 16:18 gesê:
“…op hierdie rots sal Ek my kerk bou,
en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Die kerk kan nie vernietig word nie!
Die kerk sal langer as hierdie heelal bestaan,
en jou rol in die kerk sal ook langer bestaan!

Die kerk is só belangrik dat Jesus aan die kruis daarvoor gesterf het.
Om te sê dat jy die kerk nie nodig het nie,
is om ‘n fundamentele beginsel van geloof en God se wil nie te verstaan nie.
Christus het die kerk so lief dat Hy sy lewe daarvoor aflê.
Die Woord van God noem die kerk die bruid van Christus, ook sy liggaam.
Hoe kan jy sê jy is lief vir die Here maar verwerp sy liggaam?

Ons tydsgees en indiwidualisme skep geestelike weeskinders.
Selfgerigte gelowiges….

Jy is deel van God se familie, en daaroor sê Jesus in Joh. 13:35:
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
‘n Kerkfamilie bewys dat jy ‘n ware gelowige is.
Dit red jou van selfgesentreerdheid.
Dit help jou om geestelik te groei.
Al die “mekaar” tekste in die Bybel bevestig dit.
Christus se liggaam het jou nodig.

Die bose wil ons uit die vuur van die Here trek,
om eenkant te lê en minder en minder te brand,
later net te gloei, daarna net te rook, en uiteindelik te sterf…

Wedergeboorte maak jou deel van die huisgesin van God.
Jy is deel van sy universele familie,
maar ook van die plaaslike gestalte daarvan.
Jy staan nie op die veld en kyk heeltyd kantlyn toe nie.
Jy is deel van God se wenspan wat die wedstryd van die lewe speel!
Jy vat die stampe en stote en doen die kneusings en beserings op.
Jy dra die oorwinnaarskroon!

Ernest