Hebreërs 12:12-13 is reguit woorde:
“Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad.
Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.”
Die vorige vers 11 beklemtoon juis geestelike groei,
deur en in moeilike omstandighede.
Die Vaderlike vermaning dat God se kinders weer moet opstaan,
en aktief moet raak, kom juis na mense met probleme en swaarkry.
Hierdie woord uit die Woord,
het alles te doen met die hantering van teleurstelling,
hartseer, siekte, verlies, lyding.
God weet dat jy jou lewensmaat verloor het.
Hy weet dat jou kind studies opgeskop het, of steeds werkloos is.
Hy weet dat jy gefrustreerd is in jou beroep.
Hy weet van jou liggaamlike verlies….of ondraaglike pyn.
God weet dit alles.
Daarom sê Hy juis vir jou:
“Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad.”
God se pad van geloof, volharding, gehoorsaamheid, diensbaarheid.
Raak weer betrokke.
Raak weer verdiep in die Woord van God.
Begin weer bid en hou aan!
Doen wat jou hande vind om te doen.
Gaan waar jou voete jou neem om te dien.
Lewe!
Dink jy God kan dit nie van jou vra nie?
Glo dit!...dat pyn, verlies, teleurstelling, leed en lyding,
dat dit alles deur gehoorsaamheid aan die Here oorwin word!
Ernest