Probleme en hartseer kom op ons almal se pad.
‘n Slegte mediese verslag, ‘n gebroke verhouding,
‘n vriend wat jou in die steek laat, jou werk wat jy verloor,
en nog baie ander dinge wat soos reuse voor jou staan…
Jy kan alleen daarmee voortsukkel,
of jy kan na die Here gaan daarmee.

Toe die verspieders teruggekeer het van Kanaän,
het die meerderheid van hulle vertel van die reuse in dié land.
Die reuse het inderdaad soos reuse voor hulle gestaan!
Hulle sou baie gevare te wagte wees!

Num. 14:1-4 vertel hoe die Israeliete in wanhoop verval.
Hulle gebruik herhaaldelik die woord “ons”.
Nie een keer verwys hulle na God nie – Num. 13:31-33.
Hulle staan op die punt om die beloofde land in te gaan.
Hulle het al die wonderwerke in Egipte beleef.
Hulle het op droë grond deur die Rooisee gestap.
Hulle het deurgaans God se getrouheid beleef.
Nogtans het hulle alles vergeet!!
Hulle sien net die probleme.

Kaleb en Josua het egter die Here vertrou en gelowig verklaar:
“Die Here is by ons!” Num. 14:9.
Wanneer reuse jou pad kruis,
onthou, die Here is by jou!

Ernest