Ons kry rekenaarprogramme wat jou taal en spelling kan kontroleer.
Dit help jou met die regte spel van woorde, en met sinskonstruksie.
Dit sou wonderlik wees om ‘n program te hê wat jou help met toonhoogte.
Sagteware wat jou toonhoogte meet en keer dat jy nie bitsig is nie.
‘n Monitor vir jou mond!
Hoe dikwels reageer ons nie aggressief nie.
Ons luister nie eers mooi nie.
Later is ons spyt oor ons reaksie.
Ons verloor beheer en maak verkeerde en onvriendelike opmerkings.
Kolossense 4:6 sê:
“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig;
en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”
Dit is nodig vir ons as gelowiges om ons woorde en toonhoogte te monitor.
Ons woorde moet so wees dat ons die gesindheid van die Here Jesus reflekteer.
Daarom sê Filippense 2:5:
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was….”
Praat met die regte woorde en met die regte toonhoogte.
Dit is nie net wát gesê word nie, maar ook hoé dit gesê word.
Ons woorde, en hoe ons dit gebruik, is deurgaans ons getuienis.
Maak Kolossense 4:6 jou toonhoogte monitor.
Ernest