In sy boek, Long For This World, skryf Jonathan Weiner
oor die belofte van die wetenskap dat die mens langer sal lewe.
Die Engelse wetenskaplike, Aubrey de Grey,
voorspel dat die wetenskap eendag in staat sal wees
om die mens se leeftyd op aarde tot 1000 jaar te verleng!
Aubrey beweer dat molekulêre biologie uiteindelik
‘n geneesmiddel teen veroudering sal vind.

Watter verskil maak dit in elk geval as ons na 1000 jaar steeds sal sterf?
Die lewe gaan nie oor jare nie, maar oor kwaliteit.
De Grey se voorspelling stel net die eindoordeel uit.
Ons sal steeds voor die Here te staan kom.
Die Bybel sê die dood is nie die einde van ons bestaan nie.
Inteendeel!

Die feit dat ons almal die Here van aangesig tot aangesig gaan sien,
plaas alles in perspektief.
Maak nie saak of jy 30, 50, 70, 100 of 1000 jaar gaan leef nie.
Die ewigheid wag, en dit relativeer jou lewe op aarde
tot byna niks in terme van jare.
Maar die kwaliteit van jou lewe in die Here het ewigheidswaarde!
Daarom sê Amos al eeue terug in Amos 4:12:
“Maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn!”
Dit is wat tel.
Nie hoe lank jy lewe nie.
Maar hoé jy lewe.
Gryp elke dag aan, vir die Here!

Ernest