Hadrian se Muur in die Noorde van Engeland
was dalk die Romeinse keiser se grootste sigbare prestasie
na hy in 117 n.C aan bewind gekom het.
Ongeveer 18 000 Romeinse soldate het die muur van byna 200 km beman!
Die muur is opgerig met die doel om die noordelike barbare uit te hou,
en hulle te verhinder dat hulle die Suide binne val.
Keiser Hadrian word onthou vir die muur wat hy gebou het om mense buite te hou.
So is daar deur die eeue mure gebou,
soos die Groot Muur in China, en die muur in Berlyn.

In kontras hiermee kom breek die Here Jesus mure af,
tussen God en mense, en ook tussen mense.
Hy doen dit sodat sondaars kan binne kom, en ons mekaar kan liefhê.

Toe die kerk van die eerste eeue spanning tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges ondervind,
het Paulus hulle meegedeel dat hulle in Christus almal gelyk is, in een familie van God!
“Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.
Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek
wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het….Hy het in homself dié twee,
Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig….deur Hom het ons almal,
Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.” Efesiërs 2:14, 15, 18.

Een van die uitstaande kenmerke van die Christelike geloof is die liefde,
eensgesindheid en eenheid tussen die volgelinge van Christus!
Deur sy dood aan die kruis het die Here die muur van skeiding tussen mense afgebreek.
Daarom moet ons nie mure bou tussen ons en ander mense nie.
Wanneer ons dit doen bou ons ook mure tussen mense en God!
Leef die liefde en die versoening van die Here uit teenoor alle mense.

Ernest