Wanneer die wagte by die Graf van die Onbekende Soldaat
in die Arlington Nasionale begraafplaas hulle wagbeurte omruil,
is dit iets heel besonders om te sien.
Die goed beplande optrede is ‘n aangrypende huldeblyk aan soldate
wat in gevegte gesterf het en wie se name alleen by God bekend is.
Die aangrypende op en af mars, nadat die skare reeds weg is,
en niemand hulle eintlik meer sien nie.
Uur na uur en dag na dag!
Selfs in die mees ongunstige weersomstandighede!

Gedurende 2003 het die Orkaan Isabel Washington DC genader.
Die soldate is toestemming gegee om skuiling te gaan soek.
Teen alle verwagting in het nie een van hulle hul pos verlaat nie!
Onselfsugtig het hulle wag gestaan en hul wagbeurte geruil.
So het hulle eer aan hul gevalle kamerade bly betoon.
Hul eie gerief of belange is nie deur hulself voorop gestel nie.
Hulle het eenvoudig op hull epos gebly, ongeag!

Efesiërs 6:14-18 roep ons ook op:
“Bly dan op julle pos…”
Ons kán dit ook doen, ongeag die omstandighede,
“..toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe,
die vryspraak deur God as borsharnas,
en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig
as skoene aan die voete.
Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê,
want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.
Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees,
dit is die woord van God.
Doen dit alles biddend…!”

Bly só op jou pos vir die Here.
Ongeag!

Ernest