Dit bly merkbaar dat die Here Jesus meer oor geldsake
in die Bybel gepraat het, as oor enige ander saak!
Lukas 12 gee vir ons ‘n opsomming van Jesus se leiding aan ons,
oor hoe om oor geld en besittings te dink en te doen.
Hy veroordeel nie die besit van besittings en geld as sodanig nie,
maar Hy waarsku ons dringend om nie ons vertroue hierop te plaas nie.
Geld kan nie die probleme van die lewe oplos nie.
Geld kan ook nie koop wat regtig saakmaak nie.
Vir die Here is die vraag:
“Wat is geld besig om met jou te doen?”
Geld kan jou in besit neem en jou van die Here af wegneem.
Baie geld, en die gebrek daaraan, kan dit doen!
Jesus daag ons uit om weg te breek van die mag van geld.
Jesus moedig ons aan om hemelse skatte bymekaar te maak.
Dit is skatte met ewigheidswaarde.
Hy sê in Lukas 12:29:
“Julle moenie besorg wees nie.”
Hy sal in al ons behoeftes voorsien.
Ook dit waarvan ons nie eers weet nie!
Jesus verwys na koning Salomo,
die rykste man van die Ou Testament.
Hy sê:
“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie”.
En tog was Salomo in al sy prag nie soos een van hulle geklee nie!
Hy sê ons moenie besorg wees nie,
maar “beywer julle vir sy koninkryk,
dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” – vers 31.
Ware rykdom is dit wat jy in die koninkryk van God belê.
Ernest