Spreuke 6:6-9 sê:
“Gaan kyk na die mier, luiaard,
kyk hoe hy werk, en leer by hom.
Hy het nie ‘n leier nie, nie ‘n opsigter of ‘n regeerder nie,
tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer,
versamel hy sy voedsel in die oestyd.
Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard,
wanneer gaan jy opstaan?”
Jy hoef nie net ‘n luiaard te wees om by die mier te leer nie.
Ons kan hier by die mier baie leer oor rentmeesterskap.
Hulle het nie ‘n leier of opsigter nodig om te woeker nie.
Hulle werk hard, al lyk dit in daardie stadium nie nodig nie.
Hulle samel voorraad in vir moeilike tye wat kom.
Hulle verkwis nie die seën wat hulle nou ontvang nie.
Hulle leef ook in die toekoms in daarmee.
Hulle koester dit, om later daaruit te leef, en die hele kolonie te help!
Teen die tyd van die winter is hulle nie bekommerd oor wat hulle sal eet nie.
Hulle het bymekaargemaak wat God reeds voorsien het.
Wanneer die Here vir ons tye van voorspoed gee,
dan moet ons goeie rentmeesters wees van dit wat ons ontvang.
God voorsien, en gee ons die vermoë om te werk, met goeie oordeel daarby.
God beloof om te sorg, maar gee ons ook verantwoordelikheid oor sy skepping,
en verantwoordelikheid met sy seëninge wat ons nou ontvang!
Vertrou die Here vir vandag.
Vertrou Hom ook met vandag se sorg, vir môre.
Ernest