Die advertensiewêreld is ‘n baie harde wêreld.
Dit is uiters mededingend, om mense om te haal om joú produk te steun.
En dan kom daar oomblikke wat ‘n advertensie soveel trefkrag het!
Jy vergeet dit net nooit weer nie.
Dit gaan lê in die volksmond en word sommer wyd gebruik.
So ‘n advertensie, wat groot trefkrag gehad het,
was die Amerikaanse een van die Kaliforniese melkindustrie:
“Got Milk?”
Net twee woorde, wat almal se aandag getrek het!
Na ‘n marknavorsing veldtog is vasgestel dat meer as 90%,
van alle mense wat gevra is, aandag aan die slagspreuk gegee het!
Indien “Got Milk?” so geslaagd sou wees,
en dit net om mense by koeimelk uit te bring,
wonder mens watter tipe van slagspreuk ons kan herinner
om toegewyde kinders van die Here te wees?
Natuurlik is ons verhouding met die Here nie op slagspreuke gegrond nie.
Tog sien ons van tyd tot tyd treffende spreuke op T-hemde hieroor.
Uit Jakobus 4:7-10 kan ons dalk ‘n paar haal. Twee-woord motiverings.
“Onderwerp Julle!” - Vers 7 sê ons moet aan God onderdanig lewe.
Hy het ons lief en ons kan Hom met ons hele lewe vertrou.
“Kom Nader!” – Vers 8 herinner ons daaraan dat ons by God moet bly.
Leef naby aan die Here, in ‘n intieme liefdesverhouding met Hom.
“Reinig Julle!” – Vers 8 herinner ons daaraan om rein voor die Here te leef.
Ons kan dit doen deur ons sondebelydenis,
en daaglikse oorgawe aan die beheer van die Heilige Gees.
“Wees Nederig!” – Vers 10 wil ons oproep om nederig voor die Here te leef.
Nederig in sy teenwoordigheid, wat natuurlik óral is, en ook nederig voor mense.
Sterk twee-woord motiverings,
wat miskien nie soveel trefkrag op ‘n T-hemp gaan hê nie,
maar wat inderdaad lewensveranderend gaan wees!
Gaan leef dit uit vir die Here!
Met groot getuieniskrag!
Ernest