Paulus sê in Romeine 5:20:
“Hoe meer die sonde geword het,
hoe oorvloediger het die genade geword.”
Die skrywer van die boek Judas waarsku in vers 4
dat daar mense is wat die genade van die Here misbruik,
en dat hulle redeneer dat jy tog in elk geval vergewe sal word.
Paulus spreek hierdie probleem direk aan met Romeine 6:1-2:
“Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie!”
Dan gebruik hy in vers 2 ‘n vergelyking wat dood en lewe kontrasteer:
“Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?”
Geen mens wat die nuwe lewe ontdek het,
en dit in Christus deelagtig geword het,
behoort na sonde te hunker nie.
Inteendeel!
As ons maar net iets van Christus se lyding,
en die prys wat Hy aan die kruis betaal het verstaan,
kan en sal ons nie die genade van die Here “misbruik” nie.
Die Bose het egter nie altyd ‘n doodsreuk nie.
Sonde is vir die mens dikwels baie aantreklik.
Paulus weet dit, en waarsku daarom in Romeine 6:11-12:
“Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is,
maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.”
Indien ons waarlik die liefde van God besef en iets daarvan verstaan,
sal ons die genade van die Here koester met alles wat in ons is en het,
en nie die genade goedkoop maak of misbruik nie.
Gaan lééf uit die genade van die Here!
Ernest