Dit is merkwaardig hoe ons dikwels teen ons eie beterwete kan optree.
Ons weet iets wat ons wil hê, of wil doen, is verkeerd, en nogtans gaan ons voort.
Later het ons spyt, en kan ons selfs nie ons eie hardkoppigheid verstaan nie.
Ons word kwaad vir onsself, of aanvaar die fout gelate, of bly kla daaroor.
Wat is die regte ding om te doen?
Toe die volk Israel daarop aangedring het om ‘n koning te kry,
ten spyte van Samuel se waarskuwings in 1 Samuel 8:4-9,
het God tog toegelaat dat hulle wens vervul word.
Toe die volk later hulle fout besef,
het hulle Samuel gesmeek om hulle te help en vir hulle te bid.
Samuel het die volk so geantwoord:
“Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen,
maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie.
Dien die Here met julle hele hart.” 1 Samuel 12:20.
Ons kan nie ons foute van die verlede verander nie.
Ons kan egter vandag anders optree, en so die toekoms beïnvloed.
Samuel het beloof om vir hulle te bid, en vir hulle die regte weg aan te wys.
In 1 Samuel 12:24 sê hy ook:
“Wees net gehoorsaam aan die Here en dien hom opreg en met julle hele hart.”
Dit is ook wat die Here van ons vra, ten spyte van ons foute wat ons gemaak het.
Moenie toelaat dat gister se mislukkings vandag en môre se potensiaal
saam met die Here, en vir die Here, in die wiele ry nie!
Ernest