Paulus sê in Galasiërs 4:5-7 Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word.
Ons is nie langer weeskinders nie.
Omdat ons nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur.
Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ‘n onbreekbare band van liefde.
Dit is Hy wat aanhoudend hier binne ons uitroep:
“Vader, liefdevolle Vader!”
Ons is ook nie meer slawe nie!
Slawe van die sonde en die wet nie.
Ons is volwaardige kinders van God!
Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename!
Al sy goedheid is nou ons sin!

 

Abraham Lincoln was op ‘n plein waar slawe verkoop is.
Toe hy sien dat ‘n jong meisie as ‘n slaaf verkoop gaan word het hy haar self gekoop.
Hy het toe vir haar gesê:
“Jong dame, jy is vry.”
Sy het gevra wat dit beteken.
Hy het geantwoord:
“Presies wat ek sê: Jy is vry!”
Sy het gevra:
“Beteken dit ek kan maak wat ek wil, en gaan waar ek wil?”
“Ja, dit is presies wat dit beteken”, het Lincoln geantwoord.
Met trane oor haar wange het die meisie geantwoord:
“Dan wil ek saam met u gaan asseblief!”

 

Jesus maak ons vir ewig vry!
Ons is nou kinders van God!
Ons wil saam met Jesus gaan !

 

Ernest