In hierdie tyd dink ons veral oor die lyding van die Here Jesus vir ons.
En in ‘n tyd waar voorspoed teologie gewild is,
is dit moeiliker om daaroor na te dink.
Op Sondae-oggende word die elektroniese kerk op TV al hoe gewilder.
Mense sit rustig terug in ‘n leuenstoel, en geniet dit om kerk te wees in eie gerief.
Predikers loop dikwels op die skerm op en af, en verkondig dat alle siekte genees sál word,
en dat sukses sál volg op die dien van die Here, sukses in rykdom en voorspoed.
Hierdie sogenaamde “voorspoed-teologie” spreek mense aan.
Waarskynlik omdat dit gaan om hul eie belang….
Kom ons gaan terug na ‘n Sondagoggend, om en by 33 n.C.
Die stad is Jerusalem.
Vir drie jaar lank al is Jesus besig om siekes te genees,
die wat honger is te voed, en selfs dooies op te wek.
Hy ry Jerusalem binne op ‘n donkie.
Die mense het begin uitroep:
“Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Matt. 21:9.
Die skare wat “hosanna” skreeu,
aanvaar Hom en is opgewonde oor wat Hy vir húlle kan doen.
Hulle aanvaar Hom nie vir Wie Hy regtig is,
en vir wat Hy regtig kom doen het nie.
Hulle wil ‘n aardse Messias hê wat na hul welvaart
en hul eie belange sal omsien.
Hulle wil nie ‘n lydende Messias hê,
wat hul sonde sal openbaar, en aan ‘n kruis sal sterf nie.
Hulle wil nie hoor van ‘n persoonlike toewyding,
dat jy jouself moet verloën,
jou kruis moet opneem, en Hóm moet volg nie.
Jesus het nooit kom sê ons sal nie siek word nie.
Hy het nooit verlossing van alle lyding in hiérdie wêreld beloof nie.
Hy belowe wel vergifnes van sonde, en vrede,
die ewige lewe, en die dra van ‘n kruis in navolging van Hom.
Die Engelse woord “easy” verskyn net een keer in die Nuwe Testament,
en dan met betrekking tot ‘n juk!
Enige iets anders as om jouself te verloën,
Jesus se kruis op te neem, en Hóm te volg,
is oppervlakkige godsdiens.
Maar sý juk is sag en sý las is lig,
in die lig van die kruis!
Ernest