“Hulle het Hom gekruisig”.
Matteus 27:35.

Gedurende 1968 het admiraal Elmo Zumwalt Jnr. beheer oorgeneem
van die vloot in Viëtnam.
Baie Amerikaners het gesterf op die patrollie-bote op die riviere.
In ‘n poging om die Amerikaanse sterfgevalle te beperk,
het die admiraal die riviere bespuit met ‘n chemiese middel, Agent Orange.
Dit sou die bosse en die plante op die riviere uitdun,
en dit moeiliker maak vir die vyand,
wat op die bote skiet wat die riviere patrolleer.

Een van die bote was onder bevel van luitenant Elmo Zumwalt III,
die seun van die admiraal.
Die tragiese ironie is dat hy die fatale vorm van kanker opgedoen het,
wat juis deur Agent Orange veroorsaak word!
Vir die vader was dit hartverskeurend dat sy seun so moes betaal
vir die moontlike redding van ander soldate op die bote.
Sy besluit het die lyding van sy seun veroorsaak,
al was hy nie daarvan bewus dat dit sou gebeur nie.

Die hemelse Vader moes die besluit doelbewus neem!
Om sy Seun op te offer om ons te red.
Dit is ‘n verskriklike besluit om doelbewus te neem.
Om sy Seun doelbewus aan die ontsettende lyding en die dood oor te gee,
ter wille van ons.

Dit is die pyn van die Vader se liefde vir ons.

Hy moes toesien hoe sy Seun die spot van die skares verduur.
Hoe Hy met sweepslae geteister is.
Hoe spykers deur sy hande en voete geslaan is.
Hoe Hy die las van die wêreld se sonde voor die toorn van sy Vader moes dra.
Hoe Hy sy eie Seun moes verlaat, en aan die dood moes oorgee, ter wille van ons.

Dat ons vandag nog ons rug op God die Vader draai, dra verder by tot die pyn.
Dat ons vandag nog met so min dankbaarheid lewe, dra by tot die pyn.
God die Vader se onmeetbare liefde vir ons,
en die opoffering van sy eie Seun,
vra van ons ons hele lewe van toewyding aan Hom.
Om Hom bo alles lief te hê.
En elke mens, vir wie Hy die hoogste prys betaal het,
lief te hê soos onsself.

Ernest