Johannes 20:3-4:
“Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom
en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop.”
Toe die donker dag van Jesus se kruisiging besig was om ten einde te kom,
het dit gelyk of die hoop van alle tye beëindig is.
Vir ‘n paar kort jare het Jesus die skares aangegryp.
Hy het wonderlike wysheid en leringe gehad.
Hy het wonderwerke gedoen wat hulle self gesien het.
Maar tog het Jesus homself nie van die kruisdood gered nie!
Nou was sy aardse lewe verby.
Hulle het niks meer van Hom verwag nie.
Maar nuwe hoop het met die Opstandingsondag opgevlam!
Net na sonsopkoms het Maria Magdalena
vir Petrus en Johannes vertel dat die graf leeg is!
Petrus en Johannes hardloop na die graf toe.
Wat sou hul emosies en verwagting wees?
Hartseer, verligting, verbasing, nog groter wanhoop?
Christus leef!
En Hy is steeds besig om wonderwerke in die lewe
van sy volgelinge te doen.
Hoe kan ons bly lewe asof Jesus nog in die graf is?
Ons lewe moet verby die leë graf kyk,
na die Oorwinnaar wat aan die regterhand van God sit.
Ons moet lewe in die werklikheid van die opstanding en die krag daarvan.
Die dood is finaal oorwin.
Jesus leef!
Lééf dit!
Ernest