In Matteus 9 lees ons die boeiende verhaal van twee blindes
wat gehoor het dat Jesus daar naby verbygaan.
Hulle het in geloof begin uitroep:
“Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Matteus 9:27.
Jesus het hulle gehoor en ‘n baie interessante vraag gevra:
“Glo julle dat Ek dit kan doen?” – vers 28.
Jesus het geweet wat hulle wou hê. Hy wou weet wat hulle glo.
Die blinde mans het vol vertroue geantwoord: “Ja, Here, ons glo.
Ons weet sonder twyfel dat U ons kan genees.
Ons weet U kan. Ons het vertroue en geloof in U.”

“Toe raak Hy aan hulle oë en sê:
“Wat julle glo sal gebeur”
Hulle kon toe sien” – verse 29-30.
Let op dat die Here hul situasie deur hulle geloof verander het.
Niemand kan namens jou glo nie.
Ander mense kan vir jou bid, jou uit die Woord bemoedig,
maar jy moet self jou geloof uitoefen.
Die Here wil hê dat jy groot moet glo oor Hom,
en oor jouself saam met Hom!

Daarom moet jy oor jou lewe besluit:
Ek glo waarlik onvoorwaardelik in God.
Ek vertrou Hom met my hele lewe, maak nie saak wat gebeur nie.
Wat jy self glo het ‘n baie groter invloed op jou lewe,
as wat enige iemand anders glo.

The Message vertaal die gebeure baie interessant:
“Jesus het hulle oë aangeraak en gesê:
“Word wat julle glo.”
Wat ‘n kragtige verklaring is dit nie!
Word wat jy glo!
Glo jy in die krag van God in jou lewe?
Onthou jy sal word wat jy glo.

Jy is vandag wat jy gister oor jouself geglo het,
en jy gaan môre wees wat jy vandag oor jouself en die Here glo!

Ernest