“Wat julle glo, sal gebeur.” Matteus 9:29.
Ons geloof en verwagtings het ontsaglike mag en invloed in ons lewe.
Ons kry gewoonlik nie meer as wat ons glo of verwag nie.
Ons ontvang wat ons glo.
Dit geld die negatiewe en die positiewe van die lewe.
Wanneer jy nederlaag, mislukking of middelmatigheid verwag,
kry jy dit normaalweg.
Jy kan net so maklik in die goeie dinge glo, as in die slegte dinge.
Jy kan die goeie verwag in plaas van die slegte.
Die geheim is om groot verwagting van God te hê!
Hy is “magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…”
Ef. 3:20.
Glo en verwag dit ten opsigte van jou hele lewe,
jou huwelik, jou gesondheid, jou werk, alles.
Vra die Here wysheid en insig in sý wil,
en pas jou verwagtings aan!
Glo en weet dat die Here alles ten goede vir jou laat meewerk.
Glo en vertrou die Here met jou hele lewe.
God wil jou help, vir jou voorsien, jou lei.
Fokus op God se wil vir jou lewe.
Wanneer jy bly fokus op die negatiewe,
op wat jy nie kan doen nie, en nie het nie,
kies jy om verslaan te word deur jou omstandighede
wat jy self negatief maak en beleef.
Maar wanneer jy, in die Here, fokus op die moontlikhede in jou lewe,
sal God ook bonatuurlik in jou lewe werk deur jou geloof in Hom!
Dit is jou besluit.
Jy het die keuse.
Gaan jy op God fokus, en die moontlikhede van ‘n lewe in Hom,
of gaan jy negatief fokus, sonder vertroue in Hom?
Ernest