Ons geloofswoorde is onontbeerlik in ons geloofslewe.
Ons moet meer doen as net met geloofsoë kyk.
Ons moet ook geloofswoorde spreek.
Wanneer jy jou geloof in woorde omsit, gee jy gestalte daaraan.
Hoe beïnvloed jou woorde jou geloof?
Wat sê jy van jouself, en ander mense, en omstandighede?
Spreuke 6:2 sê jy word verstrik deur jou eie woorde,
en vasgevang deur wat jy sê!
Jou woorde speel ‘n geweldig belangrike rol in jou geloofslewe.
Praat jy negatief of positief?

Hou jou tong in toom en praat gelowige woorde,
oor jou lewe, oor ander mense, en oor jou omstandighede.
Jou woorde kan jou maak of breek.

God het ons nie beveel om herhaaldelik oor ons pyn en lyding te praat nie.
Of dat ons ons negatiewe omstandighede deurgaans moet bespreek nie.
Of dat ons ons “vuil wasgoed” in die openbaar moet ophang nie.
Nee, God het ons beveel om aanhoudend oor sy beloftes te praat.
Praat God se Woord en God se beloftes.

Moenie woorde gebruik om jou situasie te beskryf nie.
Gebruik woorde om jou situasie te verander.
Begin jou dag met woorde van geloof en oorwinning.
Sluit jou dag ook so af.
Gebruik woorde om jou lewe te verander!

Om net negatiewe woorde te vermy is nie genoeg nie.
Dit is soos ‘n rugbyspan met goeie verdediging,
maar geen aanvalsplan nie.
Jy gaan heeltyd op die verdediging bly, maar nie punte aanteken nie.
Jou woorde moet jou in geloof vorentoe laat beweeg.
Kyk net hoe belangrik is woorde:
“Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek;
en met die mond bely ons, en ons word gered.” – Rom.10:10.

Gebruik geloofswoorde om jou lewe te verander.
Daarmee verander jy ook die lewe van ander.
Praat God se Woord en God se beloftes.

Ernest