Vandag is die eerste Sondag na Paasfees, die Opstandingsdag!
Ons dink weer daaraan dat ons op Sondae die opstanding vier!

In Johannes 20:11 word beskryf hoe Maria op die
opstandingsdag voor die graf van Jesus staan en huil.
Ons lees in Johannes 20:15-16 hoe Jesus aan haar vra
waarom sy huil, en verder:
“Jesus sê vir haar: “Wie soek jy?”
Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is,
en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het,
sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”
Jesus sê vir haar: “Maria!”
Sy draai om en sê vir Hom in Aramees:
“Rabboeni!” dit beteken Meester.”
Maria het toe vir die dissipels gaan sê:
“Ek het die Here gesien!”

Wat ‘n manier om die belangrikste dag in die
geskiedenis van die mensdom te begin!
Trane van hartseer.
Maria was lief vir Jesus en kom vroegoggend graf toe,
om sy liggaam te versorg soos dit destyds die gebruik was.
Nou is Jesus se liggaam gesteel!....is haar verklaring.
Maar haar trane van hartseer verander in trane van vreugde!
Eers as Jesus haar op haar naam aanspreek herken sy Hom.
Dan word Paassondag en elke Sondag daarna ‘n dag van lag,
en uitbundige vreugde! So word dit inderdaad elke dag!
Jesus het opgestaan en die dood oorwin!
Die Here leef!

Wanneer dinge in hierdie wêreld vir hom swaar geword het,
dan het Martin Luther opgestaan en teen sy muur geskryf:
“Die Here Lééf ”.

Ernest