Jesus bid tot die Vader:
“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie,
maar Ek ken U en hulle hier weet ook dat U my gestuur het.
Ek het U Naam aan hulle bekendgemaak,
en Ek sal dit nog verder bekendmaak,
sodat die liefde waarmee U My liefgehad het,
in hulle mag leef en Ek ook in ‘n hegte verhouding
met hulle mag leef.” Johannes 17:25-26.
Dalk staan ons nie genoeg in hierdie wêreld uit nie,
omdat ons nie genoeg besef waar ons was, en waar ons nóú is nie.
Lank voor Weighless en Weight Watchers,
het ‘n produk bestaan met die naam Weigh Right.
‘n Vrou wat die produk verkoop het, het min sukses gehad.
Sy het haar aanbieding aan haar man gedoen,
sodat hy kon sien of sy dalk foute maak.
Dit het baie goed gelyk en geklink.
Daarna het hy na die verpakking gekyk.
Dit was ook baie goed.
Hy vra toe om na die brosjure te kyk.
Hy het speels gelag en vir haar gesê:
“My skat, vergewe my, ek bedoel dit opreg,
maar jý lyk soos die “before picture”,
in plaas van soos die “after picture”.
Ons probleem as kinders van die Here,
is dat ons dikwels nog lyk soos wie ons wás,
in plaas van soos wie ons nóú ís.
Ons toon so min blydskap, en vreugde, en vrede,
en nuwe lewe, in ons waardes, keuses en ideale.
Ons vergeet dat ons nuwe mense in die Here is!
In vers 26 bid Jesus dat die liefde waarmee die Vader Hom liefhet,
ook in óns sal leef,
en dat ons ook in ‘n hegte verhouding met Jesus sal leef!
Dit moet ons totale uitkyk op die lewe en mense verander.
Dit moet ons in hierdie wêreld soos Jesus laat optree.
As volgelinge van die Here is ons nie dieselfde nie,
en dink ons ook nie noodwendig dieselfde nie,
maar ons het verseker dieselfde lief!
Ons moet liefhê soos die Here liefhet.
Ons lyk nou totaal anders as die “before picture”.
Ons leef nou die nuwe lewe in die Here!
Jesus bid vir ons daarvoor!
Ernest