Ons is dikwels op soek na God in die “abnormale”.
Ons vergeet dat ons nooit nader aan God kan wees
as juis in die híér en nóú nie!
God is nóú hier by ons!
God openbaar Homself voortdurend in die alledaagse dinge,
in die hier en nou.
Maar ongelukkig leef baie van ons dit mis.
Ons soek God in die bonatuurlike of abnormale.
Ons gaan onbelangstellend, ongevoelig,
en onoplettend vir die stem van die Here,
en vir die vingerafdrukke van die Here, deur die lewe.
Die mense vra vir ‘n teken en dan sê die Here in Matteus 12:41-42:
“Die mense van Nineve het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom.
Iemand baie belangriker as Jona is nóú hiér by julle,
en tog kom julle nie tot inkeer nie.
Die koningin van Skeba het van ‘n baie ver land gekom,
om na die wysheid van Salomo te kom luister.”
Jesus sê hulle vra vir ‘n teken,
maar Hyself is die teken van God, en Hy is in hulle midde!
Die mense van Nineve het God se waarskuwing in Jona herken,
en die koningin van Skeba het God se wysheid in Salomo herken.
Jesus bring ‘n groter boodskap as Jona, en groter wysheid as Salomo,
maar hulle is blind en doof daarvoor.
Hoor en sien God daagliks, in die alledaagse.
Hy is hier en nou by jou!
Augustinus het gesê God is altyd teenwoordig vir ons,
maar óns, soos blindes, het nie die oë om dit te sien nie.
Frederick Büchner stel dit treffend:
“Listen to your life. See it for the fathomless mystery that it is….
There is no event so commonplace but that God is present within it,
always hiddenly, always leaving you room to recognize Him,
or not to recognize Him.”
Hoe gereeld gebruik God nie deur ons dag tekens wat na Hom wys nie!?
Voortdurend!!
Maar ons is nie sensitief genoeg daarvoor nie, en leef dit mis.
Leef sensitief vir God se teenwoordigheid.
Jy leef ín dit!
Jy leef 24/7 in sy teenwoordigheid.
Hy kom nie nader aan jou as in die híér en nóú nie.
Ernest