Jesus vertel ‘n treffende kort gelykenis oor jou lewe.
In Matteus 12:43-45 sê Hy:
“Wanneer ‘n onrein gees uit ‘n mens gaan,
swerf hy op soek na ‘n rusplek, maar hy kry dit nie.
Dan sê hy: “Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.”
Hy kry dit onbewoon, uitgevee en aan die kant.
Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself,
saam met hom en trek in daardie persoon in.”
Hierdie gelykenis laat jou diep dink oor wat jy met jou lewe doen.
Jou lewe is soos ‘n huis waarin iemand kom bly.
As jy God nie toelaat om deur sy Gees in jou te woon nie,
gaan die Bose eenvoudig daar intrek.
Net die intrek van God kan die Bose uithou.
Jy kan op geen manier jou huis leeg hou nie.
Dit is die een of die ander.
Wie is die inwoner in die huis van jou lewe?
Wanneer dit die Bose is hoef jy net niks te doen nie.
Alles sal vanself in sy rigting loop….soos liefdeloosheid,
selfsug, onvrede, vreugdeloosheid, jaloesie, woede….
Dinge wat in die teenoorgestelde rigting gaan as wat God wil hê.
Wanneer die Heilige Gees in jou lewe die intrek neem,
omdat jy doelbewus totale beheer aan Hom oorgee,
dan sal jy die vrug van die Gees begin dra waarvan Galasiërs 5:22 praat:
liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Wie is die inwoner in die huis van jou lewe?
Ernest