Natuurlik is God die Almagtige.Hy is bo-oor tyd en ewigheid.
Bo die totale skepping.Bo die totale werklikheid.
Hy IS oneindig groot. Hy IS God.
Ons kan sy grootheid nie begryp of bereken nie.
Maar die wonderlike is dat Hy net nog groter en groter word,
soos ons groei in ons geloof.
Hoe nader ons aan die Here leef, hoe groter word Hy vir ons.
Hoe meer sien ons die heerlikheid van die Here raak.
Dit laat Jesus in Lukas 10:21 “deur die Heilige Gees dit uitjubel:
“Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde,
dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het,
en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.
Ja, Vader, so was dit U genadige bedoeling.”
Ouderdom of volwassenheid kan baie vervelig en voorspelbaar raak.
Ons is nie meer verwonderd nie.
Ons vra nie meer vrae nie. Kinders is voltydse vraestellers.
Ons verloor ons kinderlike verwondering en avontuur.
Ons dink ons weet, of gee voor dat ons weet.
Met geleerdheid, titels en kennis dink ons dat ons alles verstaan.
Ons dink ons is uitgesorteer, en verloor ons opgewondenheid.
En ons avontuur is weg. En die misterie is weg.
Die groot Christen-skrywer, C.S. Lewis, het dit begryp.
Hy skryf ‘n wonderlike kinderreeks om iets van hierdie verlore wysheid,
en insig, en avontuur, en misterie van God, vir die mens terug te wen.
In sy Prince Caspian, die tweede boek van die Narnia-reeks,
is daar ‘n ontmoeting tussen Aslan die leeu, en een van die dogtertjies.
Aslan die leeu, verteenwoordig Christus in die reeks.
Wanneer die dogtertjie hom na ‘n lang tyd raakloop,
sê sy hy het baie groot geword!
Hy antwoord dit is omdat sý ouer geword het.
“Maar is jy dan nie groter nie?”, vra sy.
“Nee. Maar elke jaar wat jý groter word,
sal jy sien ek is groter”, antwoord hy.
Dit is presies wat gebeur op die pad saam met die Here.
Hy word net groter en groter in ons oë, namate ons groei in ons geloof!
Hy IS groot. Hy Is God. Hy IS Almagtige God. Skepper van die heelal.
Hy kan in sy wese en bestaan nie groter word as wat Hy is nie.
Maar ons dink so klein oor Hom.
God is nie afhanklik van ons kennis, insig,
aanvaarding, of wysheid, om GOD te wees nie!
Hoe nader ons aan Hom leef in vertroue en geloof,
hoe groter en groter word Hy vir ons!
Hoe groot praat en getuig jy oor God?
Hoe groot is God vir jou, in jou alledaagse praktiese lewe!?
Ernest