“Van toe af het Jesus begin preek en gesê:
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Matteus 4:7.

Hierdie is inderdaad ‘n heel ander koninkryk as enige wêreldse koninkryk.
Jesus het God se koninkryk, die Vader se nuwe wêreld,
en nuwe lewe, tot by ons gebring.
Hierdie koninkryk vra nuwe sintuie om dit te beleef.
Om nuut te sien, te hoor, te handel, te dink.
Dit vra ‘n nuwe bekering.
Om ‘n vars nuwe hart en denke te hê.
Dit is nie net ‘n paar koersaanpassings aan jou ou manier van leef nie.
Dit is ‘n radikale nuwe begin en nuwe leefwyse.
Asof daar niks voor dit was nie.
Dit is ‘n nuwe skepping!

God se koninkryk keer die wêreld op sy kop.
Hier tel alle mense ewe veel,…..ook die kinders, armes,
die weduwees en wese, swakkes, sondaars, weerloses.
Burgers van God se koninkryk loop die tweede myl saam.
Hulle draai ook die ander wang.
Hulle gee die bo-kleed en die onder-kleed.
Hulle het selfs hulle vyande lief.
Hulle vergeld nie kwaad met kwaad nie.
Hulle laat die wêreld verbaas staan.
Hulle leef nie meer vir hulleself nie,
en nie vra wat ander hulle kan bied nie.
Hulle gee en dien.

Burgers van God se koninkryk word lewende Bybels,
wat gelees kan word deur die res van die wêreld..
Dit is duidelik: Christus is die Here van hulle lewe!
Hulle leef vir Hom en die Heilige Gees is die vuur in hulle binneste.
Ander mense is nou hoog op hul agenda, nie meer hulself nie.
Hulle gebede, woorde en dade,
getuig van ‘n nuwe lewe en wêreld wat aangebreek het.
Hulle gedrag is meer en meer magneties.
Hulle diensknegharte verstom mense,
en hul liefde trek mense na hierdie koninkryk toe,
die koninkryk van die hemel.

Is jy ‘n burger van hierdie koninkryk?
Bekeer jou, want hierdie koninkryk het naby gekom…!
sê die Here!

Ernest