Janet Surrey, wat navorsing doen in terme van menseverhoudings,
sê ons diepste hunkering is na diep verbintenisse.
In die belewenis van harmonie met mekaar,
breek ons los uit ons kokonne van isolasie.
In sulke oomblikke en verbintenisse beleef ons
innerlike genesing wat ons vrymaak.
Dit gaan om veel meer as net wie ons ken.
Dit gaan veral oor baie meer as “connections” in die digitale wêreld.
Ware konneksie het te doen met ons diep soeke
na bevrydende verhoudings,
en die opregte aanvaarding deur ander en van ander.
Geen wonder nie dat daar so ‘n diep sug in die wêreld is
na God se liefde en aanraking.
Dit is die oorheersende behoefte by mense,
en mense wil dit juis nie erken nie.
Hoe ironies is dit nie?
Die grootste vegters met God, hunker die meeste daarna.
Of hulle dit wil erken of nie.

Die wonderlike is dat God, in sy liefde en genade,
Hom steeds laat vind deur opregte soekers.
Hy is immers die God van verbintenisse en verhoudings.
Die verbond is ‘n duidelike teken daarvan!

Ons wat navolgers van die Here is,
moet dus verhoudingsbouers wees.
Die Here gee aan ons gawes om dit te kan en te moet doen.
Ons moet mense dien,
al voel ons en dink ons dikwels hulle is “ondienbaar”.
Al is mense hoe ondankbaar en liefdeloos,
moet ons steeds met die liefde van die Here na hulle toe uitreik.
Hulle moet die liefde van die Here in en deur ons beleef.
Dit is wat die Here met óns kom doen het!
Hy het na ons toe gekom, en Homself aan ons verbind,
juis toe ons nog goddeloos was.

Natuurlik kan ons nie diep verhoudings vorm met elke mens nie.
Maar ons moet elke mens met respek behandel,
en kanale van God se liefde na hulle toe wees.
Ons moet op alle vlakke van die samelewing hiermee besig wees,
en van die ooste en die weste af mense vir God bymekaarmaak!
Ons kan dit sonder vrees doen, omdat ons deel word van wat God doen!
Luister wat sê God self daaroor in Jesaja 43:5:
“Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar van die weste af.”

Ons kan en moet mense nader bring aan God se genesende lig.
Dit is werklik God se wil dat ons voortdurend gesonde verbintenisse skep,
en gesonde verhoudings in sy Naam groei!
Groei soos in die werkwoord groei!
Doen dit, in die Naam van die Here!

Ernest