Inflasie het baie waardevermindering tot gevolg.
Jou geld en jyself is die slagoffer daarvan.
Wanneer iets gebruik is, verminder die waarde ook.
As jy met jou nuwe motor by die vertoonlokaal uitry,
val sy waarde met duisende rande!
Baie mense dink ook so ten opsigte van hulleself.
Hoe ouer hulle word, hoe meer verloor hulle hul “aansien”,
hoe hulle lyk en voel, hulle “waarde”.
Met God se kinders is dit egter anders!
Hulle waarde neem toe!
Kyk net hoe stel 2 Kor. 4:16 dit:
“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie.
Al is ons uiterlik besig om te vergaan,
innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

Waardevermeerdering vir God se kinders!
Omdat God se trou en genade elke dag nuut is,
lewe ons met hoop en verwagting.
Ons waarde neem by die dag toe, want ons behoort aan God.
En kyk net wat doen Hy met ons.
Innerlik word ons van dag tot dag vernuwe!
Ons dra die ewigheid in ons.
Die ewigheid wat nie verouder nie!

Hoe word ons van dag tot dag vernuwe?
Deur die Heilige Gees!
Hy open ons geestesoë om die Onsienlike te sien!
Ons word al hoe meer bewus van die heerlikheid van die Here.
Ons besef meer en meer dat ons op heilige grond lewe,
want ons lewe in die teenwoordigheid van die Here!
Ons lewe se waarde neem nie af namate ons ouer word nie.
Die waarde neem juis toe,
omdat ons waarde deur God aan ons toegeken word.

Ernest