Wanneer mense sê dat hulle nie in God glo nie, glo hulle nie in niks nie.
Hulle glo eerder in enige iets.
Daarom is daar so ‘n horde gode in die wêreld.
Mense glo in een of ander god, of gewoon net in hulself.
Hulle word hul eie afgod!
En enige iets is nou reg….
En hulle bly honger en dors…

Tog loop Jesus se pad deur hierdie wêreld met al sy afgode.
Dit is nie ‘n pad vol rituele en wettiese gebruike nie.
Jy word nie op hierdie pad ‘n vaal vervelige godsdienstige mens nie.
Dit is ook nie ‘n “draai of braai” pad nie.
Hierdie roete is die pad van wysheid.
Dit is ‘n pad waarop gelééf word!
Met ‘n hemelse vrede!
Volgelinge van Jesus is verspreiders van God se genade.

Ons skarrel van bakboord na stuurboord,
om ons uiterlike wêreld in stand te hou.
Ons word rustelose bodemlose putte.
Hoe meer ons van die wêreldse ingooi,
hoe meer lek dit iewers uit.
Die lekplekke van bekommernis, angstigheid, materialisme en gejaagdheid.
Ons sal rusteloos bly totdat ons geloof in God gevind het.
Dan vind ons ook rus in God, en vertrou in Hom vir alles!
Ons het ‘n lewenslange ingebore honger na die Here.
Hy het tog die mens geskep na sy beeld…
Niks of niemand kan daardie dieper dors stil nie.
Of jy vind die lewende water wat dit stil in die Here,
of jy sterf honger en dors hierdie lewe.

Hoor nou weer vandag sy uitnodiging in Openbaring 22:17:
“En elkeen wat dors het moet kom;
elkeen wat die water van die lewe wil hê,
moet dit kom kry, verniet!”
kom drink en lééf!

Ernest