Swaarkry maak jou nie noodwendig nederig nie.
Die vraag is:
Moet mens eers swaarkry en lyding ervaar om geestelik te groei?
Swaarkry en lyding is nie die enigste leerskool nie.
Voorspoed is, aan die ander kant, ook nie gelyk aan God se wil nie.
Die punt is dat ons omstandighede nie die deurslaggewende
faktor is in ons geestelike groei nie.
Die belangrike is om altyd aan God vas te hou,
ongeag ons omstandighede!

Eers wanneer ons in Christus vasloop, raak ons genees van onsself.
Dit het met Paulus gebeur op die pad na Damaskus.
‘n Belangrike man en vol van homself in die vervolging van die kerk.
Maar hy loop homself vas teen Jesus!
Net daar het hy leeg geraak van homself en begin groei in die Here.
“Wie is U , Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus”, antwoord Hy.”
“Dit is vir My wat jy vervolg”. Hand. 9:5.

Om die opgestane Here Jesus Christus te ontmoet,
ruk jou ganse lewe in een oogwink uit jou wentelbaan van selfgerigtheid!
Dit plaas jou op ‘n nuwe koers!
Jou hele leefrigting verander.
Dit krap jou eie planne deurmekaar en jy verloor belang daarin.
Jy sien die nuwe lewe.
Jy word vir jouself onbelangrik, sonder dat jy eers daaraan dink!
God word vir jou so groot in jou lewe,
dat jy in elk geval van jouself vergeet.
Het dit al met jou gebeur?

Ernest