Filippense 2:6:
“Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie.”
‘n Legende bly ‘n legende, maar laat ‘n mens tog dink.
‘n Ou legende vertel dat daar ‘n geskokte stilte in die hemel was,
toe aangekondig is dat Jesus aarde toe kom om sy lewe vir mense af te lê.
Die aartsengel Migael het aangebied om in Jesus se plek te kom.
Maar dit kon nie. Net Christus kon die Middelaar wees.
Engele het toe aangebied om koningsklere te maak wat Jesus hier kon kom dra.
Jesus het dit ook van die hand gewys.
Die engele moes hoor dat Jesus se klere slawedrag sou wees.
Hy sou soos ‘n mens tussen mense kom leef.
Nederig, vreemd, en uit plek.
Dit is hoe Hy ons kom besoek en kom dien het.
God se wil is nie onverstaanbaar nie.
God se wil is nie dogmatiese stellings,
of kerklike moontlikhede nie.
God se wil is nie vervat in ‘n aantal verklarings,
of in teologiese studiestukke nie.
God se wil is Jesus.
Jesus is hoe God se wil in lewende lywe lyk.
God se wil is verstaanbaar en daagliks doenbaar.
Athanasius, die kerkvader, het gesê:
“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet;
in Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê.”
Karl Barth, die bekende teoloog, beklemtoon dit:
“Jesus gee nie vir ons ‘n resep om die weg na God aan te wys nie.
Dit is wat leiers van ander wêreldgodsdienste doen.
Nee, Jesus ís self die Weg!”
Jesus is God se wil in lewende lywe!
Ernest