Geloof is om te vertrou, al verstaan jy nie.
Om die Here toe te laat om jou vas te hou, al sien jy Hom nie.
Kinders van die Here gaan ook deur twyfel en onsekerhede.
Dikwels is ons geloof sterk,
en beleef ons God as naby in hierdie tye.
Ons is en bly dan oortuig van wat ons glo.
Ander tye weer sukkel ons om te verstaan en word ons onseker.
Ons belewenis is dat die Here ver is en ons nie hoor nie.
Ons beskuldig Hom selfs van afwesigheid, soos Psalm 13.
Om in God te glo en Hom te vertrou,
beteken nie dat jy alles verstaan nie.
Jy kry ook nie antwoorde op al jou vrae nie.
Jou geloof is ook nie altyd ewe sterk nie.
Om werklik te glo, is dikwels om nié te verstaan nie.
Om selfs nie antwoorde te kry nie,
en selfs ook nie vrede te hê nie.
Maar jy weet steeds dat God daar is!
Geloof gaan nie oor klinkklare antwoorde en ‘n twyfellose lewe nie.
Geloof is ook nie die waarborg vir ‘n pynlose lewe en sorgvrye bestaan nie.
Geloof is om te hoop op die dinge wat jy nie kan sien nie.
Ons hoef God nie te sien om te weet Hy is by ons nie.
Geloof is om sonder antwoorde te weet,
dat God my gekies het om hom te glo!
Ernest