Mens staan dikwels verstom voor die skoonheid van ‘n sonsopkoms,
of ‘n sonsondergang.
Jy verwonder jou as’t ware aan die vlammebal.
Dit is asof die son ‘n oomblik huiwer,
en dan verdwyn dit haastig op die Weste horison.
Dit laat ‘n hemel vol kleure agter, vlammend in rooi,
oranje en pienk.
Die son neem ‘n effense ovaal vorm aan, namate die atmosfeer sy strale buig.
Stof en mistigheid veroorsaak die mooiste kleure.
Dit gebeur selde, skryf die sterrekundige John B. Irwin in Encyclopedia Science Supplement,
dat wanneer toestande as’t ware perfek is,
sal die laaste verdwynende geel-oranje skielik verander in briljante groen!
Dit is soos ‘n uitroepteken op die dag!

 

Dit is asof die frustrasies van die dag stilgemaak word deur
die magtige stem van God in die sonsondergang.
“Die Here is God…….
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.” Psalm 50:1.
Vir kinders van die Here is elke sonsopkoms en elke sonsondergang
soos ‘n uitroepteken van God op die dag.
Dit is asof die Here sê:
Moet jou nie bekommer nie.
Hy is in die dag wat nou kom, of in die nag wat nou aanbreek.
Rus! More is ‘n nuwe dag.
Gebruik die dag. Vanaand kan jy weér rus.
Hy is in die dag en in die nag.
Hy sorg en voorsien. Elke dag en elke nag.
“Die Here is God….”

 

Ernest