1 Sam. 16:7 sê:
“Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

So het die Jode byvoorbeeld die Skrifgeleerdes baie hoog geag.
Hulle kon egter nie in hulle harte sien nie.
Hulle was behep met godsdiens,
en dit het voorgekom asof hulle baie heilig lewe.
Die Here Jesus het egter in hulle harte gesien.
Hy sien hoe hulle hul posisies misbruik,
net om self eer en erkenning te kry.

Jesus het ook gesien hoe ‘n weduwee net twee
muntstukke in ‘n houer by die tempel plaas.
Hy het geweet sy gee daarmee baie meer
as wat die ander mense gee.
Sy het eintlik alles gegee wat sy het.
Mense sou dit nie raaksien nie.
Of selfs dink sy gee só min.

Die Here se standaarde vir beoordeling,
verskil heeltemal van die van die wêreld.
Ons bewonder die mooies, die rykes, die beroemdes.
Ons gesels oor die voorblad mense.
Maar dikwels ontdek ons later hoe hul
morele en geestelike waardes twyfelagtig is.

Die Here verheug Hom oor eienskappe soos nederigheid,
opregtheid, onselfsugtigheid.
Ons kan nie in mense se harte sien nie,
en moet daarom stadig wees om te beoordeel,
of selfs te veroordeel.
Ons moet veral ook onthou die Here kyk na ons eie harte.
Die mense sien ons dade, maar die Here sien ons motiewe.
Kom ons ondersoek onsself,
voor ons ander beoordeel en veroordeel.

Ernest