Romeine 12:1-2 sê ons moet onsself gee as lewende offers.
Jy gee jouself met jou hele hart, jou hele siel,
jou hele verstand, en al jou krag.
Jouself as lewende offer,
beteken jou totale lewe.

God stel nie belang in die krummels van my lewe nie.
Gee jouself totaal vir die Here.
Leef in die unieke verhouding met Hom,
waarin Hy met jou tree, en hoe Hy jou geskep het.
Die beste aanbidding met jou hele lewe,
is die aanbidding wat jou liefde vir God
die opregste verteenwoordig.
Die Heilige Gees sal jou hierin ‘n vrymoedigheid voor die Vader gee.

Dit is belangriker waarom jy die Here aanbid, as waar en hoe jy aanbid.
Daarom sê Jesus ons moet “in die waarheid aanbid”.
Die Heilige Gees lei jou verseker hierin.

Ons aanbid nie God sodat Hy Homself vir ons gee nie.
In aanbidding gee ons onsself totaal aan Hom!
Ons hele lewenswyse word aaanbidding,
in die 24/7 teenwoordigheid van die Here,
elke oomblik van elke dag.

Sara Maitland het gesê:
“Moenie dink ons aanbid ‘n mak, beheerbare huisgodjie nie.
Ons het ‘n oneindige, onmanipuleerbare,
wilde, volkome vrye, gevaarlike God!
“Gevaarlik” natuurlik,
net as ons aan God gedink het as ‘n “veilige” wese,
vir wie ons kan gebruik net soos ons lus het.
Hy is ‘n God van amper maniese kreatiwiteit – onstuitbaar,
oorspronklik, vol entoesiasme;
‘n “groot-genoeg-vir-enige-iets” God!
Hy is tot die uiterste mate vrygewig en geduldig teenoor ons.
‘n God van misterie en skoonheid,
en van onuitspreeklike liefde.”

Gee jouself as lewende en heilige offer vir hierdie God!
Aanbid Hom met jou hele lewe!

Ernest