Iemand het eenkeer vir Luther gevra
op watter datum hy tot bekering gekom het.
Sy antwoord was : “Vanoggend!”
Daarmee wou hy sê dit is nie so belangrik om ‘n datum te hê
waarop jy jou lewe die eerste keer vir die Here gegee het nie.
Dit is veel belangriker dat jy dit elke dag weer en weer sal doen.
Bekering is nie slegs ‘n eenmalige gebeurtenis nie.
Bekering is eerder ‘n voortdurende proses.
Soos jy jouself elke dag opnuut vir die Here gee,
so groei jy al hoe nader aan Hom,
en so word jy al hoe sterker in die geloof.
Daarom skryf Paulus aan die gelowiges in Romeine 12:1-2:
“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers,
op grond van die groot ontferming van God:
Gee julleself aan God
as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”
“Gee julleself…”
Natuurlik het hulle alreeds hulself aan die Here gegee.
Maar een maal is nie genoeg nie.
Ons moet onsself elke dag opnuut aan die Here gee,
om elke dag in toewyding aan Hom te lewe.
Ons wens soms dat die Here meer van Homself in ons lewens moet gee.
Maar dan verstaan ons dit heeltemal verkeerd.
Die Here het reeds Homself totaal aan ons gegee,
deur sy Gees wat in ons woon.
God gee Homself ten volle aan ons.
Die probleem lê by ons wat nie in toewyding aan die Here leef nie.
Ons moet vir Hom meer van onsself gee!
Daarom kan ons na aanleiding van Luther se antwoord vra:
“Het jy jouself al vandag aan die Here gegee?
Het jy al vandag tot bekering gekom?”
Ernest