Selfs die grootste optimis sal erken dat daar skroewe los is in ons land.
Ons kan nou verskillende mense of instansies hiervoor blameer.
Ons gee veral die regerende party die skuld.
Ons kritiseer en almal is skuldig behalwe onsself.
Die vraag wat egter toenemend opkom is Psalm 11:3:
“As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?”
Wat kan en behoort ons as Christene in hierdie tyd in ons land te doen om ‘n verskil te maak?
Verantwoordelike burgerskap is ‘n gegewe.
Treffend is die woorde van Jeremia aan die ballinge in Babilon in Jeremia 29:7:
“Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het,
bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook jul belange.”
Dit is natuurlik die Here self wat dit vir die volk sê!
Dit is die soort gesindheid en lojaliteit wat die Here van ons verwag!
Die regerende party misluk in vele opsigte.
Tog verander dit niks aan God se opdragte aan sy mense nie.
Bid vir die land en bevorder die belange van die land!
Dit is die waarde wat jy moet toevoeg,
en waarvoor die Here jou verantwoordelik hou.
Die Here stel nie belang in jou bekwame kritiek nie.
Hy vra watter waarde jy toevoeg ten opsigte van die land en sy mense.
So doen jy die wil van God, vir Wie elke mens belangrik is.
So bou jy hier aan Sy koninkryk in hierdie land.
Belê in elke mens se lewe in hierdie land van ons.
Bid vir hierdie land, en al sy mense!
So maak jy dag vir dag ‘n verskil, en voeg jy waarde toe, in God se oë!
Ernest