God se sakpas plan vir jou lewe?
Bestaan daar so iets?
‘n Plan so spesifiek vir jou lewe dat dit sakpas is.
‘n Plan van God net vir jou?
Ons hoor dikwels in preke dat God ‘n spesifieke plan het vir jou lewe.
Ons lees in boeke Hy het vir elke mens op aarde ‘n spesifieke unieke wil.
Dit bied ook sekere stappe aan jou wat jy moet volg om die plan te ontdek.
En tog bely baie mense hulle het dit gedoen,
en nie ‘n bepaalde plan ontdek nie.
Dalk is dit omdat die stappe nie slaafs nagevolg is nie,
is sommiges se antwoord.
Of jy was nie gehoorsaam genoeg nie, sê ander.
Dit maak dat mense desperaat in die Bybel gaan rondsoek
na ‘n spesifieke plan vir hulle lewe, ‘n unieke plan.
Bly jy nou in die spesifieke huis wat God vir jou bedoel het?
Ry jy die spesifieke kleur motor wat God vir jou beplan het?
Werk jy vir die spesifieke plek wat vir jou uitgehou is?
Dat God voorsien en sorg is ‘n feit.
Dat dit ook baie persoonlik is, is ook ‘n feit.
Maar ‘n plan, nét vir jou?...
God het net een wil.
En dit gebeur in die hemel.
Daarom leer Jesus ons ook in Matt.6:10 bid:
“…laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
Hierdie wil is op God gerig.
Op God gefokus.
En ons moet inleef in God se plan wat op Hom gerig is!
Om Hom te verheerlik en te eer met jou hele lewe.
Dit is nie gerig op ‘n spesifieke unieke plan vir jóú lewe nie,
maar op God se wil vir jou lewe vir Hóm!
Die aarde is ook God se eiendom.
Hy wil ook sy wil hier laat geskied.
Daarom stuur Hy vir Jesus na die aarde.
Die Here Jesus sorg dat elkeen wat in Hom glo
vir ewig in God se teenwoordigheid leef.
Ons leef ook reeds hier en nou in ‘n nuwe verhouding met God.
God se wil vir my is dat ek deel uitmaak van sy plan
om die Evangelie die wêreld vol uit te dra.
Hiervoor rus God my toe deur die Heilige Gees.
Die Heilige Gees lei my om meer en meer soos Jesus
te leef in hierdie wêreld.
Om my beurt gee ek dus alle gawes wat God aan my gee,
gelowig terug aan Hom, sodat dit dien om sý koninkryk te laat kom.
Fokus dus op God se koninkryk en soek dit altyd eerste.
Fokus op God se eer.
Eerder as op ‘n spesifieke plan vir jóú.
Want so val die fokus naderhand op jóú,
in plaas van op God!
Ernest